Andy Capp is 'n Britse strokiesverhaal wat deur die spotprenttekenaar Reg Smythe (1917–1998) geskep is. Dit is sedert 5 Augustus 1957 in The Daily Mirror en The Sunday Mirror gepubliseer. Dit was oorspronklik 'n enkel-paneel-spotprent, maar is later na vier panele uitgebrei. Die verhaal is later in koerante wêreldwyd, en ook in Afrikaanse koerante, gepubliseer.[1]
Smythe het die strokiesprent op die lewens van sy pa en ma gebaseer. Dit beeld die doen en late van die fiktiewe hoofkarakters, Andy Capp en sy vrou Flo(rrie), uit. In die storie het Andy Capp 'n permanente dors, is lief vir dobbel en allergies vir werk.[2]
Die titel van die strokiesverhaal is 'n woordspeling op die plaaslike uitspraak van die Engelse woord, "handicap". Die "Capp" wys na Andy se slap pet wat altyd oor sy oë hang ('n metafoor vir sy uitkyk op die lewe). Smythe het ook geglo dat hy nie goed met die teken van gesigte was nie, en die slap pet het hom dié verleentheid gespaar.